Botterblom tussen Ysterklip
Die boek word opgedra aan elke mens in die Karoo. Elkeen wat daar woon, werk of wat oor die aarde versprei het, is iemand uniek en besonders. Die area waar die verhaal afspeel tussen Calvinia, Ceres , Middelpos en Sutherland bestaan, maar die plaasname en karakters is fiktief. Baie dankie aan vriende en familie se ondersteuning en aan Deon vir jou geduld en ondersteuning as ek “wegraak” in my eie wêreld. Baie dankie aan Mar-Leon Publiseerders. Julle is yster.
Botterblom tussen Ysterklip is 'n roman wat in die Ceres-Karoo en Roggeveld uitspeel.
Niekie ontmoet Andries, 'n plaasboer, op 'n troue. Vir die stadskind gaan daar 'n hele nuwe wêreld oop. Sy leer die karakters ken wat hulle lewe moet maak in 'n baie harde wêreld en hoe afhanklik die mens van die natuur is. Sy moet situasies hanteer wat sy nie eers geweet het bestaan nie. Dit is 'n wêreld waar komedie en tragedie hand aan hand loop.
Sy bevind haar binne 'n wêreld waar nasionale- en internasionale gebeure verreikende gevolge het vir die mense wat daarin leef. Suid-Afrika gaan deur 'n stormagtige tyd vol onsekerhede.
Op die plaas gaan die lewe aan tussen droogtes en reën, goeie jare en slegte jare. "Juf Nieks" vertel haar verhaal, en dié om haar, met 'n fyn humorsin en waarneming.
Selfs sy is onbewus dat onder die radar daar 'n situasie aan die ontwikkel is wat die klein gemeenskap in hierdie onderste puntjie van Namakwaland vir altyd gaan verander.
Biografie
Annekie Heyns
Met twintig jaar se eerstehandse ondervinding van die lewe op 'n Karooplaas, het hierdie skrywe baie van my eie gewaarwordinge in. Die karakters is egter fiktief, al sê Mêrie Scheepers sy ken elkeen nadat ek dit vir haar gestuur het om haar mening te toets.
Ek is 'n oud-joernalis wat by twee plaaslike koerante in die Noord-Kaap gewerk het.
1) Noordwester, Oewernuus en Messenger uit Calvinia na omliggende dorpe wat privaat uitgegee is deur mnr. Frans Hugo.
2) Gemsbok, Upington wat dorpe van Kuruman tot Port Nolloth bedien. Dit is deel van die Noordwes Koerantgroep wat weer deel is van Caxton.
3) Jbay Vibe redakteur (Desember vakansie publikasie vir Smart Invest Group)
Ek bly tans in Jeffreysbaai en het besluit om my hand aan fiksie te waag, omdat ek nou meer tyd tot my beskikking het en ek deur die jare baie goeie terugvoering van die publiek gekry het op artikels wat ek vir die onderskeie publikasies geskryf het.
My eerste boek, Die Fotoalbum, is goed ontvang.
Ek is getroud met twee kinders wat reeds uit die huis is.