As Jy, Sal Jy, deur Danny J Calitz
Biografie:
Nou wie is die persoon wat hier homself voorgee ‘n skrywer of altans ‘n gepoogde skrywer te wees. Laat ons eers net die saak regstel; Ja, die stories en gedigte in hierdie boekie vervat, is wel my eige werk, maar nooit as te nimmer sal ek myself as n digter, skrywer of poët voorgee nie. (Daar waar dit wel nie my werk is nie, gee ek erkenning, as ek weet of as ek nie nie weet, sal ek sê dat dit nie myne is nie. Hierdie is ‘n poging om myself; die mense en die dinge wat ek liefhet voor te stel aan julle, die lesers.….
Ek is gebore op Ceres in 1966 en gaan op Prince Alfred’s Hamlet, Ceres en Augsburg Hoër Landbouskool op Clanwilliam skool.
Na matriek in 1984 sluit ek aan by die SA Polisie in Vereeniging tot 1991 waarna ek terugker na Ceres.
In 1992 ontmoet ek my vrou, Marisa, en ons trou in 1993. Een jaar en vyf dae later word ons seun Kürt gebore.
Maar dit was op skool waar ek my liefde vir skryf ontdek het. Nou ek was ‘n baie lewendige kind op skool gewees, en is ook meer as gereeld die regte pad gewys met ‘n rottang, op ‘n manier wat dalk vandag die Kinderberskermings eenheid en die welsyn op Prozac sou gehad het…. Maar onthou in daardie jare was die al wat vir ‘n lewendige kind – skuus leeder, jong mens, jong volwassene, of wat ook al die politiek korrekte beskrywing is – om hom trug te ruk tot in die werklikheid van goeie maniere.
Ek het ‘n Afrikaanse onderwyser gehad van wie ek regtig gehou het. Mnr Johan van Zyl, as jy ooit eendag hierdie boek in die hande kry…. baie dankie en kry vir jouself ‘n Bells! Mnr. Van Zyl het my toegelaat om tydens gedigte klasse die inhoud en betekenis daarvan te beredeneer tot op ‘n vlak waar ek soms die hele klas ontwrig het…. MAAR, dit het my toegelaat om meer te verstaan as wat nodig was om te slaag.
So, het ek dan ook in Std 8 – of dan liewer Graad 10, vir die jongeres van jare hier – begin skryf; kortverhale, gedigte, rymelary, en ook ander skryf tipes wat nog nie ondek is nie. (Ek is baie spyt dat ek nooit enige van die notas gehou het nie!) Meskien moet ek dalk sê dat ek nie regtig ‘n sentimentele mens is nie…. Alhoewel ek soms oorval word met diep sentimentele emosies, en dan gaan dit weg vir maande of selfs jare!!!
Nee, ek glo nie ek is ‘n “headcase” nie, ek dink ek is net BAAAAAIE kompleks! Soos daar gesê word, soos ‘n ui; lagie op lagie…. ek hoop net nie dit laat jou soos met ‘n vars gesnyde ui nie: iets wat jou in trane sal laat nie!!!!
Maar hierdie boekie het ek saamgestel omdat dit ‘n begeerte is wat ek al baie jare saam met my dra, ek hoop ook dit word gelees soos wat ek dit graag wil voorstel aan julle.
Dit is wie ek, Danny Calitz is: Komplekse man wat
Lief is vir die Here,
Lief vir my mense,
Lief is vir kos,
Lief is vir Liefde…..
Geniet dit en ek hoop dit val in jou SMAAK….