Uit die pen van die advokaat - Leslie Morris
“Uit die Pen van die Advokaat” is die lewensverhaal van Leslie Abner Paul Morris, ‘n kaalvoet, armgat pa-lose klong vanuit Vredendal, gebore 1 November 1973. Dit vertel van my geliefde moeder (my ou “platneus”) Wellie Morris, my Oupa en Ouma wat my met geduld, liefde, genade en geloof grootgemaak het in groot, groot armoede. Dit vertel die verhaal van ‘n jong plattelandse seun wat die eerste keer verlief raak op die ouderdom van 12 en dan ‘n geweldige persoonlike verlies ly. Dis die verhaal van hoe ek die gebrek aan ‘n Pa in my lewe ervaar het, deur my skooljare gesloeg het, op ‘n plaas gaan werk het in 1991, net om die nodige R56.00 te kry om my matriek te kan skryf.Die vertelling neem lesers deur jare wat ek “los klos” geleef het en omtrent net vir drank en vroumense geleef het, hoe ek jonk-jonk my meisie swanger gemaak het en ons toe getrou het, omdat ek nie my kind dieselfde lewe wou laat lei het as wat ek – ‘n pa-lose “hoerkind” – gelei het nie.
Hoe ek die spoor ernstig byster geraak het as gevolg van drankmisbruik. En hoe ek die vrou wat my lewe sou verander het, ontmoet het en toe op die ou einde, na 7 lang, maer, moeilike jare uiteindelik my kinderdroom om ‘n “gereg te word” bereik het. My lewensverhaal sluit ook baie waarhede (en naarhede) asook raad en skreeusnaakse staaltjies in. Die goed, wat ek wéét mense, wat my persoonlik ken en ook ken vanuit my sosiale media aktiwiteite, bitter graag wil lees.
Hierdie boek het ek geskryf vir die eenvoudige rede: ek wil aan ons mense veral uit die plattelandse gebiede wys en oortuig dat dit maak nie saak waarvandaan ‘n mens kom nie. Dit is moontlik om jou drome te bewaarheid. Hoeveel kere was ek nie al beledig, verneder of net nooit ‘n regverdige kans gegun nie? Ek is gebore met ‘n klad op my naam nog voordat ek die lig gesien het. ‘n Skandekind, “hoertjind”, gebore vanuit ‘n verhouding en/of ervaring waarvan nét my oorlede moeder weet en die naam van my pa onbekend aan my, wat sy saam met haar in haar graf in geneem het. Ek neem my lesers op ‘n reis van plesier, hartseer, seer, skok, ongeloof, uitdaging, trots en ook ‘n bietjie lag. Soms is daar ‘n traan, meesal ‘n laggie êrens, dikwels ‘n tong wat swaar en hard reguit praat … Met hierdie manuskrip poog ek om mense te oortuig dat elkeen van ons die vermoë het om ‘n verskil in die lewe van ander te maak. Mense sal van jou praat vir solank as wat jy lewe, selfs tot na jou dood en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Die ongelukkigste mense is diegene wat hom of haar bekommer oor wat ander mense van hom of haar dink.
Ek het hierdie boek neergepen, want ek wil hê mense moet leer uit my lewensvertellinge en foute. Ek was eens op ‘n tyd ‘n volslae drankverslaafde – ‘n alkoholis. Ek het my stem vir my vrou en kinders verhef, ek was ‘n swak voorbeeld vir wat ‘n man en pa moes wees. Dit sal vir my ‘n bonus wees as ek één man kan oortuig daarvan dat dit heeltemal in orde vir ‘n volwasse man is om ‘n drankie te geniet – met perke, natuurlik en sonder om sy hande – of stem – vir ander mense te lig as hy “enetjie te veel gehad het”.
Ek wil bietjie lag in mense se lewens bring – ons is hopeloos te ernstig in hierdie ou wêreld en mooi land van ons. My volk, my mense, my vriende ken my en verwag van my om die voorbeeld te wees en ook die baken van hoop vir baie van ons jong kinders in ons plattelandse gebiede. Baie mense ken vandag vir Leslie Morris deur middel van sosiale media, maar daar is diegene wat my persoonlik ken wat weet waar vandaan ek kom en hoe swaar ek gekry het. Ek wil vir ons mense wys dat dit nie saak maak wat jou omstandighede is nie, jy kan as jy wil. Al val jy sewe keer, staan jy vir die agtste keer op. Dis nie die feit dat jy geval het, wat tel nie, maar die feit dat jy opgestaan het. Ek het my droom verwesenlik; daarom is die verwagtinge onder my volk om ook deur my geïnspireer te word. Ek wil hê my mense moet na my kyk en se: “Danksy jou storie en lewensverhaal, Leslie Morris, het ons en ons kinders nie moed verloor nie, Jy het ons weer in ons drome laat glo”.